’n Huis vir huisloses

Bou ’n ark! Huh?! Wat weet ek van arkbou? Ek weet nie eens waar om goferhout (Gen 6: 14) te kry nie. Is dit ooit ’n boom wat in Suid-Afrika groei? Dis omtrent hoe ek gevoel het toe die oproep gekom het om ’n skuiling vir haweloses in te rig en vir die duur van die grendeltyd te bestuur.

Wat weet ons van skuilings vir haweloses? Dit was die regering wat gevra het dat haweloses van die straat afgehaal en in ’n veilige plek gehuisves moet word. Dit was nie, soos met Noag van ouds, die Here wat gepraat het nie. Of was dit? Jy sien, ons by Saints Africa het nog altyd gesê dat ons eendag ’n skuiling vir straatslapers wil bou. En hier kom die Here (ja, dit was die Here en nie die regering nie) en Hy plaas die geleentheid reg in ons pad.

Kry ’n plek/saal/gebou

Stap nommer een is ook hekkie nommer een. Kry ’n plek/saal/gebou! Drie van die vier direkteure van Saints Africa is Hervormers. Ek is self ’n Hervormde predikant, daarom begin ons by die Hervormde gemeentes. Ons stuur ons versoek uit aan ’n klomp gemeentes en wag vir antwoorde. Die meeste gemeentes ignoreer ons versoek soos die spreekwoordelike stopstraat. Dalk reeds in die pastoriestudeerkamer uitgefilter. Vir dié wat ons antwoord en moeite doen om die versoek te bespreek, is ons dankbaar. Ten spyte van R5 000 per week wat die gemeente kan verdien vir die huur van die saal, al voorsien ons ons eie mobiele toilette en storte en maak ons nie gebruik van die kerk se kombuis nie, is die uiteinde dat al die Hervormde gemeentes nee sê. Die redes was legio. Maar ons hét reggekom.

Voorsienigheid

In die middel van die tweede week van die grendeltyd het ons skuiling vir 40 haweloses op die terrein van Rosebank Union Church gestalte gekry. As ek vandag moet getuig oor God se voorsienigheid, sal ek jou baie lank besig hou, want ons word oorval deur die goedheid van die gemeenskappe om daardie kerk, die lidmate van daardie kerk, maatskappye, vreemdelinge, Facebook’ers en WhatsApp-groepe van oral.

God is groot

GOD IS GROOT! So groot dat ’n tweede skuiling in wording is. Met die stigting van Saints Africa het ek verklaar dat ons koninkrykswerk doen wat nie in die Kerk moontlik is nie. Ek was per ongeluk reg. Ek wens egter ek was verkeerd. Die vraag wat my teister, is: As die opdrag kom om ’n ark te bou, hoekom skuil ons agter ’n legio redes? Ons weet niks van arkbou nie. Gaan die versekering ooit ons ark dek? Hoe seker is ons die mense gaan die ark verlaat aan die einde van die vloed? Ons wil nie vuil mense in ons ark hê nie. Dit gaan die res van ons lidmate ontstel. Ons mense is nie gereed vir so iets nie. Ons is op ’n ander plek in ons geloofsreis. Is humanitêre uitreike werklik die roeping?

Bou die ark en vertrou God. Hy stel nooit teleur nie.

Ds. CJ van Wyk, Saints Africa (en Gemeente Newlands in Johannesburg)

(Om te sien wie Saints Africa is, besoek die webtuiste www.saintsafrica.org)

bron: Blitspos, uitgegeven door de Hervormde Kerk in Zuid-Afrika